SA BRANDEWYN STAAN SY SKOENE VOL BY VERITAS TOEKENNINGS
Met die eerste ooit insluiting van brandewyn in die gesogte Veritas-toekennings vanjaar, het brandewyn ’n mylpaal bereik. By die luisterryke gebeurtenis is die land se voorste verteenwoordigers van die wyn- en brandewyn-industrie onlangs by ’n galageleentheid in die Kaapse Internasionale Konferensiesentrum (KIKS) vereer.
Nie net brandewyn het toekennings ontvang nie – die pioniers van die brandewyn-industrie Jos le Roux, Buks Venter en Danie Grundling was onder vanjaar se Lewende Legendes, wat vir hul reuse bydrae tot die industrie, vereer is.
’n Totaal van 40 brandewyne het in die kategorieë vir standaard, verouderd en potketel meegeding. Aan die voorpunt van die medaljewenners is Van Ryn brandewynkelder met twee dubbel-goud en twee goue medaljes. Die kelder het dubbel-goud vir die Van Ryn 20 Year Old Collectors Reserve en die Van Ryn 12 Year Old Distillers Reserve en die goud vir die Van Ryn 15 Year Old Fine Cask Reserve en die Van Ryn 10 Year Old Vintage.
Top-presteerders wat dubbel-goud en goud gewen het, is KWV (dubbel-goud vir die KWV 20 Year Potstill Brandy en goud vir die Laborie Alambic Brandy 5 Year en Imoya VSOP); Oude Meester (dubbel-goud vir die Oude Meester Reserve 12 Year Old en goud vir die Oude Meester Demant en Oude Meester VSOB Brandy), Klipdrift (dubbel-goud vir die Klipdrift Gold OVM en goud vir die Klipdrift Export Brandy), Nederburg (goud vir Solera Brandy) en Collison’s (goud vir Collison’s White Gold).
Die brandewyn medalje uiteensetting lyk as volg: 5 dubbel-goud, 9 goud, 9 silwer en 5 brons – ’n merkwaardige vertoning as in ag geneem word, dat 50% van die wenner dubbel-goud of goud gewen het.
Die paneel was onder voorsitterskap van Dave Hughes, een van Suid-Afrika se veteraan internasionale wyn- en spiritus beoordelaars en ook ’n befaamde distileerder. Hy het gesê dat hy beindruk was deur die getal inskrywings. “Die verskeidenheid en brandewynstyle was geweldig wyd en die standaard baie hoog.
“Ek glo ons lei die wêreld in die ontwikkeling wat in brandewynproduksie gebeur. Daar is ’n wêreldklas gehalte in al hierdie kategorieë en met die meer verouderde produkte, is dit die beste in die wêreld – soos die internasionale kompetisies bewys. Nie alleen is die verouderde produkte wonderlik nie, die versnitte is veral bemoedigend omdat hulle van sulke hoë gehalte getuig,” het Hughes gesê.
Om Suid-Afrikaanse brandewyn se debuut by die 2010 Veritas-toekennings te vier, het ’n uitgelese span internasionale en plaaslike brandewynspesialiste vir die eerste maal bymekaar gekom om dié fynproewerdrankie vir die gesogte Veritas-pryse te proe, te bespreek en te beoordeel.
Ander Suid-Afrikaanse beoordelaars met internasionele ondervinding is Distell Primêre Produksie direkteur, Johan Venter, wat onder meer ’n lid is van die brandewyn evalueringskomitee van die Wyn en Spiritus Raad; KWV hoof brandewynmeester, Kobus Gelderblom; Kaapse Wynmeester Dr. Andy Roediger; Kaapse Wynmeester Dr. Winnie Bowman, ’n biomediese wetenskaplike wat reeds die Van Rhyn-toekenning vir Brandewyn Uitnemendheid ontvang het en Distell Groep Algemene Bestuurder vir Spiritus Produksie, Brink Liebenberg. Dié nuwe paneel is verder ondersteun deur die internasionale beoordelaar, Denis Lahouratate, keldermeester by die Huis van Bisquit Cognac.
“Ek was beïndruk met Suid-Afrikaanse brandewyne se standaarde, veral in vergelyking met die brandewyne wat ek al van ander lande geproe het,” het Lahouratate gesê. “Dit was vir my ’n lekker ondervinding.”
“Die Suid-Afrikaanse wyn- en brandewyn industrieë deel ’n trotse geskiedenis wat oor meer as 350 jaar opgebou is,” het Duimpie Bayly, voorsitter van die SA Nasionale Wynskou Assosiasie, beskermheer van Veritas, gesê. “Dat brandewyn, ’n edele produk van die druif, nou deel van Veritas is, is ’n natuurlike verlenging van hierdie verbintenis.”
“Ons is so gelukkig met die uitstaande prestasies van Suid-Afrikaanse brandewyne in vanjaar se debuut-jaar by Veritas,” sê Suid-Afrikaanse Brandewyn Stigting voorsitter, Riaan Marais. “Veritas gee nou aan die Suid-Afrikaanse brandewyn ’n goeie plaaslike platform waarop hulle kan kragte meet, tesame met ’n geleentheid om die volgehoue uitstaande kwaliteit van Suid-Afrikaanse brandewyn te verkondig.”
Lewende Legendes
Jos le Roux, Buks Venter en Danie Grundling se werk vorm die boustene van die Suid-Afrikaanse brandewyn-industrie en is vereer as Lewende Legendes by vanjaar se Veritas-toekennings. Jos le Roux en Danie Grundling is ook Suid-Afrikkanse Brandewyn Gildelede.
Jos le Roux
Die eerste kennismaking wat Jos le Roux, ’n boorling van Robertson, met brandewyn gehad het, was toe hy as junior navorsingsassistent by die Department Landbou by Elsenburg gewerk het. Eers heelwat later, nadat hy sy studies, wat ook ’n meestersgraad in chemie van die Universiteit van Stellenbosch, ingesluit het, voltooi het, het sy betrokkenheid met rasse skrede gegroei. Dit was eers by Nietvoorbij, waar hy navorsings in kolom-distillasie onderneem het en later by die toe Distillers Korporasie, waar hy tot sy aftrede in 1990 as hoof van spiritus produksie gewerk het. In hierdie tyd was hy betrokke in baanbrekerswerk oor die hergebruik van brandewynvate in die verouderingsproses, wat internasionale belangstelling ontlok het.
Onder sy leiding is handelsmerke soos Flight of the Fish Eagle bekendgestel en Oude Meester en Klipdrift is uitgebrei. Hy het menige vriende deur sy werk as konsultant – plaaslik en oorsee – gemaak; ook as dosent by die Universiteit van Stellenbosch en as aanbieder en eksaminator van brandewynproduksie by die Kaapse Wynmeester kursusse.
Buks Venter
Buks Venter, ’n matrikulant van Brandwag Hoërskool op Benoni, het ’n BSc. in Wynboukunde, Wingerdkunde en Chemie aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, voor hy sy loopbaan as brandewyn-spesialis by KWV begin het. Hy het die leer vinnig geklim en is later aangestel op die maatskappy se senior bestuurspan. In hierdie tyd publiseer hy baanbrekersnavorsing oor brandewyn veroudering en ontwikkel 20 internasionale brandewyne vir KWV – waarvan drie uitgesonder is vir erkenning as die beste in die wêreld. Venter, wyd berese en belese – toe bestuurder van produksie-ontwikkeling by KWV – het in 1998 ’n konsultant geword met verskeie projekte vir ondermeer GT Ferreira en Barrydale wynkelder. In 2005 het hy ’n maatskappy gestig om industriële bio-petrol aanlegte vir plaaslike en oorsese oprigting.
Danie Grundling
Danie Grundling is ’n vyfde geslag boer wie die kuns van tradisionele distillering op ’n vroeë ouderdom by sy pa, Dys, op die familieplaas buite Oudtshoorn, Sandkoppies – tuiste van Grundheim wyne – geleer het. Dis in dieselfde ou Woudberg koperpot wat sy pa, Dys, gebruik het, wat Grundheim Natural Potstill brandewyn nou deur Danie se seun, Dys jnr. gestook word. Danie is ’n kampioen stoker wat verskeie toekennings en medaljes gewen het. Dit dra alles by tot sy status as ’n legendariese stoker van die Klein Karoo, ’n brandewyn-pionier en meester-storieverteller.
Die volledige uitslae van die Veritas 2010 kompetisie is beskikbaar by www.veritas.co.za.
Die publiek het nou die geleentheid om die brandewyne en wyne wat dubbel-goud en goud by die 2010 Veritas-toekennings gewen het, te proe. Verskeie geleenthede sal in die komende weke aangebied word, om ’n rare geleentheid aan wyn- en brandewynliefhebbers te bied, om die land se bestes te proe. ’n Proe word in Johannesburg gehou op 26 Oktober by die Sandton Konferensiesentrum, terwyl dit in Durban op 4 November by die Deloitte hoofkantoor in Umhlanga gehou word.
Kaartjies vir die proeë kan by Computicket gekoop word. Vir meer inligting oor tye, plekke en kaartjiepryse, besoek visit www.veritas.co.za.